René Engelbrecht

Taalpraktisyn

Profiel


Ek het grootgeword in ’n huis waarin taal ’n baie belangrike rol vervul het. My pa was vroeg in sy lewe ’n vertaler en hy het later woordeboeke geskryf – tweetalig,verklarend, tegnies,opvoedkundig. Ek het dus deurgaans met taal te doen gehad. Op skool was tale my kos. Ek het Afrikaans, Engels, Frans en Latyn as vakke gehad. Op universiteit was dit Afrikaans-Nederlands, Frans en Engels. En dit was altyd my beste en gunstelingvakke.


My eerste vertaalwerk het ek op universiteit gedoen. Later toe ek getroud was, het ek vir my man vertaalwerk gedoen en redigering vir ’n uitgewery terwyl ek aan ’n Engelse skool klas gegee het in Frans, Engels en Afrikaans. Gedurende my jare as onderwyseres het ek op deeltydse basis vertaalwerk en redigering bly doen. Ek was hierna ’n jaar lank aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein verbonde waar ek onder meer ’n Franse boek se vertaling in Afrikaans moes redigeer. Toe was ek twee jaar lank vertaler en redigeerder aan die destydse Universiteit van die Oranje-Vrystaat. Hier het ek ’n verskeidenheid vakke se vertaalwerk en redigering gedoen en selfs die rektor se toesprake in Engels vertaal. Ek het ook op deeltydse grondslag tesisse geredigeer, van geskiedenis tot tegnologie.


Hierna het ons Kaap toe getrek en ek het weer skoolgehou en hoofsaaklik Afrikaans gegee. Ek het baie redigering van skooldokumente gedoen. Ek het ook aan die Kaapse Technikon Afrikaans as deel van ’n oorbruggingskursus aangebied en sake-Afrikaans gedoseer. Ek het verder studeer en ’n diploma in verdere onderwys verkry en hierna ’n meestersgraad in sielkunde. Tydens my studie het ek baie vertaalwerk en redigering vir die Departement Sielkunde gedoen: van eksamenvraestelle tot voorgeskrewe boeke vertaal en vraelyste uit Engels en Nederlands in Afrikaans vertaal. Studente het ook hul tesisse vir my gebring om te redigeer.


Nadat ek my studie voltooi het, het ek steeds deeltyds geredigeer en vertaal. So het ek ’n skooljeugverhaal uit Engels in Afrikaans vertaal en die werkboek daarvan geredigeer. ’n Bekende uitgewer het vir my ’n Engelse voorgeskrewe boek vir universiteitstudente in Afrikaans laat vertaal en ek moes ’n terminologielys vir sielkundestudente se Afrikaanse en Engelse verklarings redigeer. Intussen het ek talle tesisse en webruimtetekste geredigeer. Ek het ook baie vertaalwerk en redigering gedoen van werk wat ek van die Internet af gekry het.


Ek is nou voltyds ’n taalpraktisyn wat vertaal en redigeer. My werk is deeglik en ek aarborg dat ek spertye haal. Ek is ’n geakkrediteerde vertaler en lid van die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut. Vertaling en redigering is my erns.


Vertaal – Redigeer – Proeflees